Geskiedenis
» Wys alles «Vorige «1 ... 20 21 22 23 24 25 26 27 28 ... 32» Volgende» » Skuifie vertoning
Johannes Marais Scholtz (1879 - 1916), notas van Bertus Scholtz
Geskryf deur Johannes Albertus (Bertus) Scholtz (1907-1997), gedigitiseer en beskikbaar gestel deur Ian Scholtz.
Hy is gebore in die ou Kaaps-Hollandse huis te "Scholtzenhof" en het sy aanvanklike onderwys op ’n plaasskool in die omgewing ontvang. Later is hy na Stellenbosch vir verdere skoolonderrig.
As jongman het hy hom, egter tot die see aangetrokke gevoel en het hy by die "Union-Castle" redery aangesluit as kadet om as offisier opgelei te word. Nadat hy die kursus met sukses deurloop het, is hy as ondergeskikte offisier op een van die bote van die redery aangestel. Nadat hy ongeveer 16 jaar in diens was, het hy gevorder tot die rang van tweede in bevel op een van die bote van die redery. Intussen is hy getrou en het hom in Engeland gevestig.
Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in 1914 is hy deur die Britse Admiraliteit opgeroep en weens sy opleiding in die kuns van die navigasie van skepe is hy op die swaarkruiser die "Queen Mary" geplaas as navigasie-offisier.
Op 31 Mei 1916, die namiddag het die twee oorlogsvlote mekaar in die omgewing van Jutland raakgeloop en daar het die grootste seeslag wat die wêreld ooit gesien het plaasgevind. Albei kante het beaam dat hulle die oorwinning behaal het - die Duitsers omdat hulle meer Britse skepe gesink het as wat hulle verloor het en die Britte omdat hulle die Duitse oorlogsvloot effektief die oopsee ontsê het en dat die Duitsers nooit weer bereid was om slag te lewer nie.
Dit is nie nodig om na die gang van die slag te kyk nie, maar daar moet na twee aspekte omgesien word, nl. Eerstens hoe die "Queen Mary" ondergegaan het en tweedens die toeloop van sake wat daartoe aanleiding gegee het.
In een aspek van die stryd het ’n flotilla swaarkruisers onder Admiraal Beatty d.i. 6 skepe teenoor ’n flotilla van die Duitsers d.i. 5 skepe te staan gekom. Die Britte se geskut het uit 15 duim kanonne bestaan terwyl die Duitsers bewapen was met 12 duim geskut. Op een stadium het dit so gekom dat die "Seydlitz" en die "Derfflinger" gelyktydig op die "Queen Mary" gevuur het. Die skepe agter die "Queen Mary" in die lyn nl. die "Tiger" en die "New Zealand" het gesien hoe uit ’n Duitse salvo van vier bomme drie die "Queen Mary" tref. ’n Donker rooi vlam het uit die skip opgeslaan en met ’n donderende geluid het dit ontplof en stukke is ver en wyd versprei. Stadig het die agterstewe, met die skroewe nog draaiende na bowe gekom en toe in die dieptes weggesink. Dit was 4.16 n.m. en van die bemanning van 1266 het nie een lewend ontkom nie.
As gekyk word na die feite wat tot die tragedie bygedra het, kom die volgende na vore: Hoewel die Britse bomme groter en swaarder was as die van die Duitsers, was hulle geneig om op kontakmaking te ontplof en het dus nie deurdringingsvermoë gehad nie. Die effek met treffing was dus baie minder.
Die Duitse bomme het egter, groot deurdringingsvermoë gehad en was instaat om die Britse skepe se panserwering te deurboor. Dit is dan ook wat blykbaar met die "Queen Mary" gebeur het. Van die bomme het die panserwering deurboor en toe binne in die skip se magasyne ontplof.
Die tweede oorsaak vir die effektiewe verweer van die Duitse vloot teenoor die oormag van die Britse vloot, is dat die Duitsers se instrumente wat gebruik was om afstande en ander aspekte te bepaal, baie meer akkuraat was as die van die Britte. Gevolglik was die Duitse vuur baie meer akkuraat as die van die Britte.
Commemorative Information: Portsmouth Naval Memorial, Hampshire, United Kingdom. The memorial is situated on the South sea Common overlooking the promenade.
| Eienaar van die oorspronklike | Bertus Scholtz, Ian Scholtz |
| Geskakel aan | Johannes Marais Scholtz |
» Wys alles «Vorige «1 ... 20 21 22 23 24 25 26 27 28 ... 32» Volgende» » Skuifie vertoning
