Nuwe Boekmerk
Catharina Elizabeth van der Merwe

Catharina Elizabeth van der Merwe

Vroulik 1764 - 1796  (32 jare)

 

1 2 Volgende»     » Skuifie vertoning

Joachim Scholtz (1761-1805), notas van Bertus Scholtz

Geskryf deur Johannes Albertus (Bertus) Scholtz (1907-1997), gedigitiseer en beskikbaar gestel deur Ian Scholtz.

Joachim is bes moontlik gebore op die plaas Rogge Kloof in die Roggeveld waar sy vader toe woonagtig was. Later het sy vader hom in die Bokkeveld gevestig en dit was tydens hul verblyf hier dat hy op 19-jarige leeftyd Belydenis van Geloof afgelê het in die jaar 1780, in die gemeente Tulbagh. Die volgende jaar het hy in die huwelik getree. Waar hy en sy gade hulle aanvanklik gevestig het is nie duidelik nie. In 1783 word hul eerste kind te Kaapstad gedoop maar daar word aangeteken dat die ouers in die gemeente Tulbagh woonagtig was. Op die kind se eie sterfkennis, baie jare later word vermeld dat die ouers met die geboorte van die kind in die distrik Worcester, woonagtig was.

Op 24 Junie 1785 word die weiregte van die plaas genaamd "De Elandsberg, achter die Roggeveld aan die Rietrivier" aan hom toe geken. (R.L.R. 34.1 bl. 29) Elandsberg lê op die punt waardie huidige pad tussen Sutherland en Fraserburg oor die Rietrivier gaan. Blykbaar het hy ’n ander plaas ook gebruik want op 3 Junie 1787 (R.L.R. 25/- bl. 153) word aangegee dat hy Elandsfontein alreeds verlaat het.

In 1786 word die tweede kind, ’n dogter, gebore en die doop vind te Stellenbosch plaas, blykbaar omdat die kind se grootvader toe in Stellenbosch woonagtig was. Die woonplaas van die ouers word nie vermeld nie.
Op 28 Februarie 1786 (R.L.R. 34/2 bl. ?) ontvang hy die plaas Eende Kuijl aan die Rietrivier as woonplek en op 16 Desember 1789 was hy nog daar woonagtig. Met die doop van die dogter washulle dus waarskynlik hier woonagtig. (Eende Kuijl is 8 km stroomaf langs die Rietrivier vanaf Elandsberg - m.a.w. na die noorde toe.)

Op 25 Oktober 1759 word die plaas "Baviaansdrift" aan Gerrit van Wyk, Arij se seun, toegeken. In Desember 1778 kla hy dat die Boesmans hom van die plaas verdryf het. Op 13 Julie 1787 word dit aan Joachim toegeken. In Julie 1790 was hy nog daar. (R.L.R. 36/2 bl. 240 en R.L.R. 15/2 bl. 264). Hy moes dus die twee plase gelyktydig gebruik het. Baviaansdrift is 20 km noord van Eendekuil af en is ook aan die Rietrivier geleë.

In die jaar 1790 word die weiregte van die plaas "Sauraansdrift, achter op die Roggeveld aan die Rietrivier" ook aan hom toegeken. Blykbaar moes hy een van die ander plase verlaat het. In tussen het hy ook ’n erf in Stellenbosch gekoop en ’n huis daarop laat bou en op 23 Junie 1789 het hy ’n verband teen die erf en huis laat registreer. (KAB, Stel. Reg.)

Ongeveer 1795 het sy gade hom ontval en in 1796 het hy weer in die huwelik getree met Anna Johanna Francina Jacobs. Waar hulle hul gevestig het is nie duidelik nie, maar later het hy homna die omgewing van Ceres begewe en wel as padmaker.

In die boek, "So High the Road - Mountain Passes of the Western Cape" van Jose Burman. Human Rousseau, Cape Town, 1963 - bl. 12 staan:- "By 1795 transportation in the remote areas of the Cape had assumed impossible proportions. Thus the inhabitants of the cold Bokkeveld were cut off by two ranges of mountains from the nearest town Tulbagh. It was true that Mostert's Hoek provided a route through the ore chain of mountain, but even this hazardous road lay many miles from Tulbagh and to reach it involved the farmer in a long roundabout trek." (Mitchell's Pass)

"So when an enterprising farmer named Pienaar took it upon himself to build a pass over the Schurfteberg en Witzenberg mountains direct to Tulbagh, there was widespread rejoicing."

Pienaar is later vermoor deur een van die groepe skelms wat hulle in hierdie onbegaanbare omgewing skuil gehou het. In 1786 het die Landdros en Heemrade van Tulbagh gevra vir die dienstevan ’n "klipbreker" om die moeilike pad tussen die Bokkeveld en die land van Waveren in orde te hou, Joachim het hierdie werk aanvaar.

Burman meld verder:- "At the point where the Schurfteberg Pass enters the Agter Witzenberg there used to be a toll-gate, and in 1804 the toll-keeper was authorized to demand from every wagon the staggering sum of a rix-dollar and a half. Like the other tolls at the Cape, this one was farmed out, so that the toll-keeper did the minimum repairs possible".

Op 13 Februarie 1805 het die Landdros en Heemrade van Tulbagh gekla oor die slegte toestand van die paaie in die omgewing en daar word besluit dat die padmaker daaroor aangeskryf moet word. (1/WOC - 1/1. Notule Landdros en Heemrade, Tulbagh 1804-1808.)

Lichtenstein het ook toe daardie pad gereis. Burman vermeld "Lichtenstein was no lover of tolls, but this toll-keeper, who was named Scholtz, seems to have aroused his special dislike. Apparently Scholtz was immensely fat and travelled round on a little wagon from which he would direct road repairs. Furthermore he had only one good eye, and wore a black patch over the other, giving him a real piratical air."

"Lichtenstein records with satisfaction that, some time later, Scholtz was finally caught stealing cattle from the wayfarers, but died before justice could be meted out to him."

Blykbaar is hierdie laaste stukke ’n nydige versinsel van Lichtenstein, want in alle registers van Landdroste en ander dokumente kan geen verwysing gevind word wat Lichtenstein se stelling kan staaf nie.

Sy tweede vrou, Anna Jacobs, is later weer getroud met Christoffel Francois Snyman.

Twee uittreksels uit "Die Vergete Grootpad deur Ceres en die Bokkeveld" saamgestel deur Dene Smuts en Paul Alberts.

bl. 35
Net daarna het ’n heeltemal andersoortige vallei gevolg. Dit was aan die voet van die Skurweberge, een van die groot bergreekse wat van die noorde af parallel met die Weskus loop...

As jy bo-op hierdie ongewone produk van die natuur staan, lyk die vallei daaronder somber en melancholies... Die vallei is ryk aan gras en lelieagtige plante en lyk baie na ’n Europese weiveld. In die middel van die vallei aan die voet van die berg staan die huis van veldkornet Hugo, waar ons oornag het. Die geboue hier is groter en stylvoller as die Roggeveld s’n: diebalke, mure en grasdak getuig van beter vakmanskap. Die sitkamer het netjiese rakke, waarop huishoudelike gereedskap van glas en erdewerk ewe smaakvol gerangskik is en ’n mate van welvaart toon. Die maniere van die inwoners stem meer ooreen met die afronding van die Kaapse stadsbewoners as die reguit maar goedhartige eenvoud van hul landgenote in noordeliker dele van diekolonie.

bl. 37
Die volgende dag se uitputtende tog was een van die belangrikste onderwerpe van bespreking. Hulle het ons verseker dat dit een van die moeilikste en uitputtendste togte oor die berge in die hele kolonie was.
Onmiddellik onderkant die kloof waarmee ons die Skurweberge deur is, het ons ’n afgesonderde huis onder ’n oorhangende rots aangetref: dit is bewoon deur ene Scholtz, ’n padopsigter wat daar gestasioneer is om ’n riksdaalder en ’n half te kollekteer van elkeen wat oor die berg kom. Daarmee moes hy die pad in stand hou. Hierdie geld is in ’n distriksfonds inbetaal. Hy moes die pad herstel en is ook toegelaat om op die omliggende grond te boer. Omdat swaar winterreëns die steil afdraandes so erg beskadig, is herstelwerk byna onophoudelik in aanvraag.

Ons het uitgespan onder ’n paar eikebome, wat ook vir skadu om die huis gesorg het. Ons het ons tafels en banke uitgehaak en op die grond gaan sit om verversings te geniet. Die opsigter, of padmaker, soos hy in die landstreek genoem is, was een van die grootste en vetse mans wat ek ooit gesien het, en dit sou moeilik wees om ’n minder intelligente of onbevoegde mens in die hele kolonie te vind. Hy het ons verseker dat hy binne ’n paar jaar so vet geword het. Hy was voorheen maer. Hy is op sy padinspeksies in ’n klein waentjie rondgetrek, maar ’n slaaf moes oor die padwerkers toesig hou. Die bure het gekla oor sy swak werk en gesê dat die pad is voor ons aankoms herstel. Dit was twee jaar lank haas onbegaanbaar...

’n Gerug het die rondte gedoen dat Scholtz ander grotte gehad het waarvan net hy en sy slawe geweet het. Hier het hy die skape weggesteek wat hy met die hulp van sy slawe van slagterstroppe gesteel het.

Ongeveer ’n jaar later is Scholtz en al sy werkers aangekeer en meer as die helfte van hulle is aan roof skuldig bevind. Die slawe het gebieg dat hul meester die allerverskriklikste onwaarhede verkoop het, maar voordat hy skuldig bevind kon word is Scholtz in die tronk dood. Ek het hom as dokter in die tronk besoek. Met sy reusagtige lyf, sy een-oog gesig, sy geslepenheid en bedrog, sy neiging tot eensaamheid en sy afkeer van groente en alle vorm van plantkosse het die eienaar van die grotte aan die voet van die Skurweberge ’n sterk ooreenkoms met die monster Polifeem getoon.

Eienaar van die oorspronklikeBertus Scholtz, Ian Scholtz
Geskakel aanAnna Johanna Francina Jacobs; Joachim Scholtz; Catharina Elizabeth van der Merwe

1 2 Volgende»     » Skuifie vertoning